Omvattende homeopatie, rou voedsel, voedingsaanvullings en konvensionele medikasie

Beste Anuska

Baie, baie dankie vir jou hulp met Tierkat en Dimitri die afgelope 2 maande. Soos jy weet, was die 14jarige Tierkat op sterwe agv nierversaking na sy ontberinge tydens ons verhuising van Pretoria na Knysna.

Nou is Tierkat weer vol lewe, danksy jou homeopatiese medisyne, die rou kos wat hy verslind (nadat hy hoegenaamd niks wou eet nie), en die toediening van onderhuidse vloeistof van tyd tot tyd, soos nodig.

Hy is nog maer, maar hy word elke dag sterker, en geniet dit om die voëltjies in die fynbos dop te hou…

Wat Dimitri betref, is ek net so dankbaar vir jou hulp. Soos jy weet is hy ook al 10 jaar oud, en al jare op aanvullings en behandeling vir sy osteo-artritis, erge vel-probleme en skeidings-angs. Na die ontwrigting van die trek hierheen, het Dimitri se fisiese en emosionele toestand agteruitgegaan, en dit het gelyk asof hy homself weer obsessief sou begin stukkend-lek. Hy’t effens verbeter nadat jy sy dieet, homeopatiese medisyne en aanvullings verander het. Daarna het jy mbv bloedtoetse bosluisbytkoors gediagnoseer, en hom met ‘n lang-termyn antibiotika-kursus behandel. Dimitri het intens baat gevind by jou deeglikheid en aanpasbaarheid as veearts en geneeskundige – in die ware sin van die woord – omdat jy hom met ‘n omvattende kombinasie van homeopatie, rou kos, voedings-aanvullings, en ook konvensionele medikasie behandel het.

Dis nou minder as 2 maande later, en Dimitri is gesonder as ooit.

Ons stap elke dag amper ‘n uur lank (hy’t baie minder pyn as tevore), hy verorber sy rou kos met meer entoesiasme as wat ek hom nog OOIT sien eet het, hy speel weer met Kerneels (ons ander hond) soos van ouds, sy pels is sagter en blinker, en dit wil lyk asof sy vel- en ander probleme dalk uiteindelik van binne af begin genees.

Baie, baie dankie, Anuska. Jy het Tierkat se lewe gered en ‘n enorme verbetering gebring in Dimitri se lewenskwaliteit. En terloops, Kerneels en Angelica, die ander viervoetige lede van die gesin, sê ook baie dankie, want hulle baat ook by die heerlike rou kos.

Met groot waardering,

Hanli ~ Knysna, Wes Kaap

Hanli
Real Food, Real People, Real Pets, Real Stories